Background
In die negentiende eeu het daar alreeds verskeie klubs in die Paarl onstaan. Onder hulle was
Caveliers en die welbekende Standards. Met die uitbreek van die Boere-Oorlog, moet baie van die
lede van Caveliers gaan diens doen. Dit het veroorsaak dat die klub in duie gestort het, maar kort
daarna was die klub, "Rhodesians",gestig.
In 1903 het daar 'n paar manne bymekaar gekom om 'n nuwe klub in die lewe te roep. Onder hulle
was daar baanbrekers soos Kallie Combrinck, Tommy Sendin, Danie Goetham en Peter Moore.
Spelers van "Rhodesians" het ook by die nuwe klub aangesluit. Werkendes soos Polly de Jager en
Johnny Titus het die voortou geneem.
In Waterkantstraat, langs die oewer van die Bergrivier met sy talryke klippe was die klub gebore.
Baie paslik het die klub "Riverstones" geheet, simbolies aan die rivier ewigdurende vloei en net in
tye van droogte sy klippe laat pryk. Die Goethams, Sendins en die de Jagers was van die begin af
steunpilare van hierdie klub. Japie Goetham het as speler bo almal uitgetroon.
Gedurende die vroee twintiger jare het Riverstones maar 'n sukkelende bestaan gevoer. Net toe dit
skyn asof die klub tot niet sou gaan, het daar skielik lewe gekom, danksy manne soos Jappie " alo"
Pietersen, Mike Adams, Dawie Titus en Willie "Sker" Hendricks, wie die klub weer opgebou het.
Onder voorsitterskap van Karo "Kakebeen" Alexander was vergarderings voortgesit aan huise van
Dawie Titus in Loopstraat. In die twintiger jare het Riverstones weer begin floreer. Toe was
vergarderings gereeld gehou by Johnny Carolissen van Du Toitstraat, wie die voorsitter van die klub
vir n geruime tyd was. Met manne soos Merca Martin,Joey "Tandtjies" Jacobs, Attie Goetham, Dan
Goetham, Gelant Jefthas, Francis Carollisen en vele ander het ons klub goed op die sportveld
presteer. Die kaptein, "Swart" Willem Jacobs was beskou as die uitstaande speler van daardie tyd.
Met die stigting van die nuwe klub "Swartbekboontjies", het daar weer 'n insinking gekom vanwee
die verlies van spelers.
Hierdie maerjare was egter van korte duur. Die dertiger jare was ongetwyfeld die "Goue Era" van
Riverstones. In die jare 1935, 1936 en 1937 was die naam Riverstones die gevreesde naam. Destyds
as 'n mens die uitslae wou weet, moet jy nie vra wie gewen het nie, maar met hoeveel punte
Riverstones gewen het. so goed was daardie spanne dat enige klub wat die geluk getref het om
gelykop teen Riversotnes te speel, daardie aand jollyd en fees gevier het tot vroeg in die oggendure
want dit was mos 'n seldsame gebeurtenis. Sulke manjifieke rugby het hierdie spanne gelewer dat
Riverstones, onder die bekwame leierskap van Abbas Moerat, vir drie agtereenvolgende jare die
gesogte liga en ander bekers ingepalm het. Geen wonder dat die beroemde Springbok, Pierre de
Villiers onomwonde verklaar het dat daar menige Springbokke in daardie span was. Wie kon Skop
soos Isaac "Slik" Aaron, wie kon in die lynstane soos "Jaai" Goetham spring en wie kon sy opponent
harder as Pietie Sendin lak? MANNE VAN STAAL! In die geskiedenis van ons rugby in die Paarl was
daar seker nooit In beter span as hierdie nie. Ons bring hulde aan holle: Jannie Moerat, Tommie
Dickens, "Jaai" Goetham, James Thomas, Louis Goetham, Bully Heynes, George Meyer, Alie Moerat,
Pietie Sendin, Dulla Syfdien, Isaac Aaron, Soldaat Adams, Moos Philander, Abbas Moerat, Saaid
Abrahams, Attie Goetham en Isaac Sendin.
Na die glorie van die dertiger jare het die veertiger jare vele terugslae opgelewer. Met die stigting
van die Victory klub, moes Riverstones van sommige lede afstaan. Dog 'n groter ramp het die klub in
1944 getref met die onstaan van Vineyards.
Teen wil en dank, het ons Moslem spelers die klub verlaat. Asof dit nie genoeg was nie, het Gardens
'n paar jaar later ook n klub in die “ TUIN" langs die rivier gestig. So was die rivier se water weereens
gebruik om ook die blomme in die tuin te voed. Nieteenstande al die struikelbloke en kwesbare
terugslae, het die klub nog, hard soos n rivierklip, altyd staande gebly. Danksy manne soos Pieter
Lapperts, James Thomas, Pieter Matheyse en Billy-Boy Jacobs, wie met hulle vasberadenheid,
lojaliteit en onbaatsugtige diens, die klub deur diep ontstuimige water en vele beproewinge geloots
het. Eienaardig genoeg, in die vyftiger jare het die klub alweer so aangesterk dat daar vier
rugbyspanne ingeskryf moes word. Eers was dit twee derde spanne en later selfs twee tweede
spanne. Ons klub was die enigeste wat ooit met twee tweede spanne in een kompetisie sukses
behaal het.
Die sestiger jare het nie juis opwinding gelewer nie, tog het ons goed presteer. Met die gesonde gees
en goeie samewerking van die lede en bestuur, was vele funksies met welslae gereel. Soveel so, dat
die klub gedurende daardie tyd suksesvolle toere na Suidwestelike Distrikte, Namakwaland, Graaff-
Reinet en Beaufort-West kon onderneem.
Met die sewentigste verjaarsdag het die bokkie oudergewoonte van die koel suiwer water uit die
rivierbeker gedrink. Hy neem waar dat van die klippe wat hy so goed leer ken het, begin afskilfer het.
Sommige het ook verbrokkel in kleiner klippies. Die kleinere klippies is egter alreeds goed
vasgeanker. In die periode verloor die klub baanbrekers aan die dood. Ons bring vandag hulde aan
hulle. Sommige het uitgetree en met trots hul ampte toegestaan aan gewillige jonger manne. Soos
rugby in spel en in reels verander het, so het Riverstones begin bou. 1973 kon die klub 'n junior span
ingeskryf om in die Paarl Unie mee te ding. So goed het hulle gevaar dat Riverstones met trots kan
noem dat van hierdie jong spelers die klub se naam hoog gehou het toe hulle gekies was on
verteenwoordigende rugby te speel.
Begin 1979 was besluit om weer intensief te konsenteer op elke faset van die spel. Die getroue en
ywerige samewerking tussen spelers en afrigters het tot gevolge gehad dat ons geweldige vordering
gemaak het. Hierdeur het ons van 'n middelmatige tot een van die sterkste klubs gestyg. In die
periode tagtig tot honderdste bestaansjaar was die naam Riverstones weer op elke rugby entoesias
se lippe. Die rede hiervoor is dat ons spel lewer waarvan die toeskouers hou. Soos in die "Goue Era"
(1935-1937) het die reus weereens verrys. Vriendskapbande was gesmee met die onderneming van
toere na Middelburg (Kaap), Calitzdorp, Copperton, Namibië, Graaff-Reinette en Oudtshoorn.
Administrateurs van formaat het in hierdie tyd ook na vore getree.
Ons bring hulde aan Uncle Bill Thomas, Mr Thomas en Titus Adriaanse wie ons reeds aan die dood
afgestaan het, en bedank diegene wat ook n groot rol gespeel het naamlik Mr. Apollis, Willie Jacobs,
John Goetham, David Adams, Alex Jacobs om net n paar te noem. Spelers wie in die tyd hul merk
gemaak het en die klub op provinsiale en uniale vlak verteenwoordig het was Jack Keyser, Douglas
Adams, Neville Beukes, die Paulse broers Rudolf en Sammy, Russel Roux, Granville en Neil Fortuin,
Pat Salomons, Genade Williams, Alex Jacobs, Martin Green en Charles Paulse. Hilton Lobberts se
harde werk het hom beloon om die groen en goud trui aan te trek.
Die klub het in die tyd verskeie bekers in die WP-kompetisie verower en is gereeld as die sewe n kant
kampioen gekroon. Riverstones se toeskouertal het gegroei in een groot lojale familie en het steeds
met entoesiasme die spanne tydens die moeilike tye in die jare 2000-2013 ondersteun. Afrigting en
bestuur van spelers het n professionele dimensie in die tydperk aangeneem. Harde werk en disipline
van beide bestuur en spelers het vrugte afgewerp het toe die eerstespan die liga kompetisie in 2009
verower het. 'n Seening het die klub te beurt geval met In finansiele toekening vanaf die lotto.
Hierdie fondse het die klub instaat gestel om 'n suksesvolle toer na Grootbrak in 2012 te
onderneem. Huidiglik neem tien klubs deel in die streek kompitisie. Die juniors neem deel aan die
0/11, 0/14 en 0/16. Hierdie statistiek toon dat die klub se fondament sterk geanker is en dat ons
voortbestaan verseker is.
Die klub het verder verliese weens sterftes gelei en die betrokennes se nagedagte sal altyd by ons
bly.
2016 het die watervlakke in die Paarl drasties begin sak. Waterbeperkings was ingestel en was die
uitdaging om te oorleef weer op sy felste.Rugby velde kon nie onderhou word nie en wedstryde was
afgestel of uitgestel. Oefeninge was ook ingeperk.Riverstones se strategiese besluit om in junior
spanne te belê het vrugte afgewerp en was dit die begin van die herlewing en vernuwing van die
klub se afrigtings- en spelerskorps. Die klub het ook in hierdie tyd die geskiedenis boeke herskryf
deurdat die 1ste dame gekies is as Voorsitter van die klub. Die klub was dus bevoorreg om 2 dames
op die bestuur te hè naamlik Vida Claasen as Voorsitter en Jecica Esau as wedstrydsekretaris.
Riverstones verloor ook verskeie lede aan die dood. Onder hulle was Rudolf Paulse, Noel Adams,
Lorenzo Fortuin, Dawid Beukes, David Adams, Charles Jampies , Simon Julies,Keith Beukes, Jeremy
Hendricks en Irwin Dirks wie almal op die bestuur van die klub gedien het.
Harde werk , opofferinge , pligsgetrouheid, ekstra motivering en die wil om te presteer het daartoe
gelei dat die naam van Riverstones weer op almal se lippe was en ook was dit die hoeksteen
waarom die klub weer tot 'n groot hoogte punt in 2017 uitgestyg het. In die liga kompetise het
Stones se eerste span 5de geeindig en daarmee seker gemaak dat ons kwalifiseer om in die top 8 in
die Paarl Streek deel te neem.
Die 1ste span het almal, behalwe natuurlik hul getroue toeskouers, vriend en vyand verras om die
gesogte Top 8 beker te verower deur onoorwonne in dié uitklop kompetisie te eindig. Die klub het
verskeie silwerware by die Paarl Streek se beker uitdeling ontvang. Erkenning is ook aan die afrigter
,Gerchwin Paulse, gegee en Charl Paulse het die gesogte toekenning as speler van die Uitklopreeks
ontvang.
In 2018 het ons groot derby gevier en sluit ons die seisoen af as wenners van die top 6 in die Paarl
Streek kompetisie. ‘n Bewys dat die sukses van 2017 nie n gelukskoot was nie.Die 2de span wen die
liga beker.
Gedurende 2019 het Stones goeie rugby gespeel en het jonger spelers op die voorgrond getree.Die
2de span het weereens die liga beker gewen.
2020 word die hele Wereld deur die pandemie,Covid, aan bande gele. Wetgewing het mense
gedwing of vanaf hul huise te werk en slegs mense wie nooddienste verrig kon hul wonings verlaat
om te kan gaan werk. Beperkings was ook ten opsigte van getalle gestel en maskers moes as n
vereiste gedra word. Sportaktiwiteite was opgeskort. In die tydperk was daar dus geen rugby gespeel
nie.
Die pandemie was ook verantwoordelik vir ongekende sterftes.
Gedurende 2021 verower die 2de span die liga beker en in 2022 die plaat in die Uitkloppe
kompetisie.
Die Liga kompetisie in 2023 word oor 2 rondtes beslis. Die 1ste span is onoorwonne in die 2de
rondte en is die kans gunstig dat Riverstones die 2de rondte kan inpalm.
Die klub verloor ook van haar lede aan die dood ,administrateurs en spelers, naamlik Frankie Samaai
,Philip Valentine, John Goetham, Andrew Apollis, Claude Epfraim,Japie Juries, Aubrey
Solomons,Douglas Adams. Ons medelye gaan uit aan die families en spelers en ons vertroue dat ons
Hemelse Vader vertroosting sal bring.
120 Jaar op ons kerfstok en steeds beur die bokkie vorentoe. Die klub glo steeds dat: "Non but the
Fittest shall survive"
Gallery

Western Province Rugby Football Union
Menu
Socials
FACEBOOK
TWITTER
INSTAGRAM
TIKTOK
Contact
Western Province Rugby Union © 2025. All rights reserved



